Die Burger Leon Rousseau
26/07/2010
Goeie nuus vir almal wat waarde aan Afrikaans heg, is dat die tweede uitgawe van Spreekwoorde en Waar Hulle Vandaan Kom deur Anton F. Prinsloo nou met 3 000 spreekwoorde uitgebrei is, tot 11 000. Dit is ’n toename van meer as 37%.
Slegte nuus vir elkeen wat een van die ses drukke van die eerste uitgawe besit, is dat die hersiene uitgawe die eerste onvolledig maak en dus liefs bygekoop moet word. Gelukkig is R320 vir meer as 600 bladsye (iets meer as 50c per bladsy) ’n redelike prys.
Die boek het ’n reeks pluspunte. Van die 11 000 spreekwoorde, segswyses en frases kom etlike honderde uit die Bybel, waarskynlik ewe veel of meer, hoewel ek nie getel het nie, as die frases uit die Engelse Bybel in Scapegoats, Shambles & Shibboleths – How the Bible Shaped Our Language, wat ook nou pas uitgereik is.
Ongeveer die helfte van die 3 000 bygevoegde spreekwoorde is aan Nederlands ontleen, wat ’n klein bietjie help vergoed vir die reuse-verlies wat die verdwyning van Nederlands op skool vir ons taal was.
’n Klompie minder bekende frases van Indonesiese herkoms is opgeneem. “ ’n Skuit op djallamalling” is een wat op see oornag. As iemand sê “jou moesoek (meerdere) is dood”, bedoel hy dat jy almal oortref. Soos dikwels met vreemdklinkende woorde gebeur, het moesoek in die volksmond soms Moses geword, soos in “jou Moses teenkom”.
Party polities inkorrekte woorde en frases word verswyg, maar gelukkig nie almal nie. In die “Inleiding tot die WAT”, wat in ’n preutser tyd as ons s’n geskryf is, staan daar met verwysing tot wat ek “sloptaal” noem: “ ’n Bangerige preutsheid mag die woordeboekmaker nie weerhou van die taal in sy breë omvang weer te gee nie.” Hopelik, namate ons verder van die apartheidstyd af kom, sal raswoorde oor dieselfde kam geskeer kan word. Sodanige woorde word in die nuwe uitgawe van Spreekwoorde met “rassisties” of soortgelyke frases aangedui. “Lieplapper” (niksnuts), oorspronklik uit Indonesië, waar dit “liplap” was (iemand met lippe wat soos lappe fladder?), is ’n voorbeeld. Interessant genoeg het “liplap” ná 1622 nie meer op velkleur gedui nie; dit was bloot ’n Europeër wat in die Ooste gebore is.
By elke lemma verskyn ook enkele woorde in Engels, byvoorbeeld “Jou melk wegskrik [plat]. Groot skrik. Get a great fright.” Dit help Engelssprekendes om dié uiters nuttige naslaanwerk te gebruik. Wanneer ’n langer verklaring van die woord of frase se herkoms bygevoeg word, is dit egter net in Afrikaans.
Sloptaal word met die woord “plat” aangedui (sien vorige paragraaf).
Vir die eerste keer word intensiewe vorme soos “so nors soos ’n buffel” opgeneem.
Die nuwe uitgawe bevat ’n aantal algemeen gebruikte frases uit Frans en Latyn, soos “joie de vivre” en “sine qua non”.
’n Klompie heilsame Anglisismes, die soort wat ek Engelsismes noem omdat hulle ons taal op engelagtige wyse verruim, is bygevoeg. Voorbeelde hiervan is “liefde maak”, “mal gaan”, “katte en honde reën”, “met moord wegkom” en “blou moord skree”. Laasgenoemde kom oorspronklik uit die Frans mort (de) Dieu (dood van God), maar Dieu is tot bleu (blou) versag voordat dit in Engels verder aangepas is.
Twee volledige registers, een vir Engels en een vir Afrikaans, maak dit maklik om frases na te slaan.
Om onbekende redes is byna 90% van die teks op die inligtingsvel wat NB-Uitgewers (die groep waaraan Pharos behoort) aan Die Burger gestuur het, in (nie altyd onberispelike) Engels.
By ’n boek wat kennelik so enorm baie werk geverg het as hierdie een, klink dit vitterig om op foute wys, maar ’n mens hoop darem die stelling dat Hektor in die Trojaanse oorlog ’n groot Griekse held was, word by ’n herdruk reggestel. Die groot Griekse held was Achilles, en sy teenstander, Hektor, was ’n Trojaan. Daar is voorts ’n paar kwessies waaroor ’n mens kan debatteer, en ek het een setfout gesien. Min genoeg!
Die waarde van hierdie groot boek kan skaars oorskat word. Kry dit!
PHAROS, KAAPSTAD. (SAGTEBAND, 605 BLADSYE, ISBN 978-1-86890-101-2.)
Leon Rousseau is ’n skrywer en afgetrede uitgewer van Pretoria.
|